Raak betrokke

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit

Rol jou moue op en gee jou hande vir hoop. Die Solidariteit-beweging se aksieplan vir hoop pak misdaad, lei jongmense op, beveg regstellende aksie, verlig armoede onder ons mense en beskerm mense in die werkplek. Dit is nie ʼn bedelplan nie, maar ʼn doenplan. ʼn Doenplan het egter doenmense nodig en hierdie is ʼn oproep om betrokke te raak by die Solidariteit-beweging se aksieplan vir hoop.

Die Suid-Afrikaanse verkiesing is pas agter die rug en die uitslag is weer oorweldigend in die ANC se guns. Tog is daar tekens van hoop. Die ANC se steun het verminder, hulle tweederde meerderheid is gestuit, daar is ʼn nuwe party op die toneel en daar was ʼn regeringsverandering in die Wes-Kaap.

Daar is egter steeds kommer oor die toekoms. Volgens ʼn Media24-webpeiling het 86% van die mense wat aan die peiling deelgeneem het, nie hoop vir Zuma se presidentstermyn nie. Dit is om dié rede dat die Solidariteit-beweging sy aksieplan van hoop bekend maak. Volgens die aksieplan moet Suid-Afrikaners nie hulle hoop op ʼn eksterne faktor – waaroor ons geen beheer het nie -  plaas nie. Ons moet self beheer oor ons hoop neem.

Die idee van selfverantwoordelikheid kom uit die Solidariteit-beweging se Christelike tradisie. Jy ontvang ʼn roeping en is self daarvoor verantwoordelik om dit uit te voer.

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, praat op Solidariteit Radio oor die Solidariteit-beweging se aksieplan van hoop.

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, praat op Solidariteit Radio oor die Solidariteit-beweging se aksieplan van hoop.

Jy mag nie sê dat jy as gevolg van ʼn Zuma, ʼn groot ANC-meerderheid, ʼn klein opposisie of ʼn demografiese realiteit nie jou roeping kan uitvoer nie of dat jy hoop verloor het nie. Nee, dit is jóú verantwoordelikheid om jou roeping uit te voer.

In die na-verkiesingstyd gaan die rol van burgerlike organisasies om regte op te neem net groter word. Net soos mense in rye gestaan het om aan die partypolitiek deel te neem, moet mense nou in rye staan om aan die burgerlike politiek deel te neem.

Burgerlike politiek is praktiese politiek. Partypolitiek het ʼn belangrike, maar beperkte rol. Die partypolitiek skep ʼn demokratiese omgewing, hoofsaaklik deur wetgewing, maar dit is burgerlike organisasies wat die Grondwet lewendig hou. In die Suid-Afrikaanse situasie, met ʼn verswakkende staat, gaan burgerlike organisasies selfs staatsfunksies moet oorneem. ʼn Goeie voorbeeld is privaatbeveiliging, privaat mediese fondse en privaatskole.

Burgerlike organisasies moet ook dikwels regte in die howe opneem. Die Solidariteit-beweging gaan byvoorbeeld nog vanjaar die regering hof toe vat oor regstellende aksie en misdaad.

Burgerlike politiek is egter anders as partypolitiek. Met partypolitiek hoef jy net een maal elke vyf jaar in die geheim ʼn kruisie te trek. Met burgerlike politiek moet jy egter betrokke wees. Jy raak dus prakties betrokke by die skep van hoop. Daarom sê ons: Burgerlike politiek het hande vir hoop nodig en daardie hand is jóú hande.

Die Solidariteit-beweging is só ʼn burgerlike beweging en bestaan uit:

  • Die vakbond Solidariteit
  • Die maatskaplike organisasie Solidariteit Helpende Hand
  • Die burgerregte-inisiatief AfriForum
  • Ddie tegniese kollege Sol-Tech,
  • Die Solidariteit Beleggingsmaatskappy
  • Solidariteit Finansiële Dienste
  • Die ontwikkelingsfonds Solidariteit Groeifonds