Sluit aan

Wie is die Solidariteit-beweging?

Die Solidariteit-beweging is ʼn inisiatief van Solidariteit, die grootste Christelike vakbond in Suid-Afrika. Solidariteit verteenwoordig sowat 130 000, hoofsaaklik Afrikaanse, werknemers en die vakbond het ʼn indrukwekkende suksesrekord. Die Christelike vakbondwese dwarsoor die wêreld glo dat werknemers nie net ekonomiese wesens is nie, maar deel is van gemeenskappe. Christelike vakbonde is dus gewoonlik deel van ʼn groot beweging met selfstandige instellings. Christelike vakbonde skep met ander woorde vir hulleself ʼn toekoms deur praktiese dinge te doen. Uit hierdie denke is die Solidariteit-beweging gebore. In ʼn situasie waar ʼn minderheid binne ʼn meerderheidsomgewing moet oorleef, is ʼn beweging van selfstandige instellings ʼn ideale instrument.

Hoekom by ʼn vakbond aansluit?

In die huidige ekonomiese krisis het mense nie meer ʼn keuse as om beskerming in die werkplek te kry nie. Jy weet nooit wanneer die krisis jou kan tref nie. Om alleen te staan in so krisis is ʼn angswekkende ervaring. Solidariteit is jou ouboet in hierdie moeilike omstandighede. Indien iemand jou boelie, kan jy altyd op jou ouboet staatmaak. Dikwels kom jy onskuldig in die moeilikheid by die werk. Jy het dan ʼn regspan nodig om te help.

Net so onverantwoordelik as wat dit sal wees om in die huidige misdaadsituasie nie jou kar en huis te verseker nie, is dit om in die huidige ekonomiese krisis nie lid van ʼn vakbond te wees nie. Ons ervaring is dat dit juis mense wat nie tradisioneel lid van ʼn vakbond is nie, wat die swaarste deur die ekonomiese krisis getref word. Dit is juis op bestuurs- en professionele vlakke waar die meeste herstrukturerings plaasvind en daarom het Solidariteit ʼn spesiale afdeling begin vir witboordjiewerknemers.

Met gewone rande van gewone mense kan ons reeds R200 000 se projekte aanpak

ʼn Gemeenskap het nie ʼn regering of reuse bemagtigingstransaksies nodig om self ʼn toekoms te skep nie. Hulle het net hulleself nodig. Afrikaners het dit gewys ná die Tweede Vryheidsoorlog en toe weer ná die Depressie en die armblankevraagstuk.

Dit is presies op hierdie wyse wat Solidariteit Helpende Hand, AfriForum en die Solidariteit Groeifonds gemeenskapsprojekte aanpak. Deur die 20-, 50- en 100-rande van gewone mense word reeds meer as R2 miljoen per maand ingesamel en kan R200 miljoen se projekte aangepak word. Danksy hierdie geld kry kinders kos, ontvang arm Afrikaanse graadeen-leerders skooltassies en skryfbehoeftes, word teenmisdaadveldtogte geloods, kry jongmense beurse, word opleidingskolleges gebou, en vele meer. Jou bydrae lyk dalk klein, maar saam met duisende ander is dit groot.

Dit is hoe jy by die Solidariteit-beweging betrokke raak:

Skets van Solidariteit-beweging

Hetsy jy werk of afgetree is, ʼn eie besigheid het of vir iemand anders werk, jonk of oud is, getroud of ongetroud is, daar is vir almal plek in die Solidariteit-beweging.

Daar is vier toegangspunte vir deelname aan die Solidariteit-beweging.

  • Solidariteit vakbond. As jy werk word jy deel van die vakbond Solidariteit. Met die ekonomiese krisis is dit eenvoudig onverantwoordelik om te werk en nie lid van ʼn vakbond te wees nie. Hoe sterker die vakbond is, hoe beter kan hy sy rol as burgerlike waghond in die breë arbeids- en ekonomiese wêreld speel.
  • AfriForum. As jy aktief wil deelneem aan die beskerming van burggeregte, sluit jy aan by AfriForum.
  • Solidariteit Helpende Hand. As jy mense wil help om selfstandig te wees en ʼn hart het om veral arm Afrikaners en wittes te help, sluit jy aan by Solidariteit Helpende Hand.
  • Solidariteit Groeifonds. Indien jy wil help met ontwikkelingsprojekte, sluit jy aan en dra by tot die Solidariteit Groeifonds.